Jou Romeo

  • Lopies
  • Leggings
  • Liefde
Wanneer die begroting vir Romeo & Juliet gesny word vir opgraderings aan die krieketklubhuis maak die verpletterde dramasiele, Yvette en Tyler ‘n plan om hul opvoering te red. Hierdie plan het egter onverwagse gevolge vir die nuwe held van die show, hartebreker Marko Marais.

Kort Sinopsis

In ’n sportmalskool is Yvette, Tyler en die dramabrigade ’n piepklein #arty minderheid en hulle het slegs een doel voor oë: Om Romeo en Juliet in hul matriekjaar op die planke te bring. Die skoolhoof, Meneer Kirby Potgieter, het egter ander planne en sny die kuns- en kultuurbegroting vir opgraderings aan die krieketklubhuis. #lopies

Desperaat om kaartjies te verkoop en sodoende die vertoning te red, beraam Yvette en Tyler ’n plan. Hulle oortuig die skool se sportheld en hartebreker, Marko Marais, om die rol van Romeo in Tyler se plek te vertolk. Hulle plan werk en die kaartjies verkoop soos soetkoek. #leggings
Marko voel onverwags aangetrokke tot die bleek dramasiel Yvette. Sy sien ook skielik meer in Marko raak as die image van ’n “oppervlakkige” spiertier jock met ’n mooi glimlag. #liefde

’n Leuen dreig egter om hulle uitmekaar te skeur en gevolglik ook die opvoering te kelder. Om universiteitstoelating te kan kry, moet Marko ’n sportbeurs met sy krieketkolf losslaan. Terwyl hy uithaal en wys op die krieketveld, wonder Yvette of Marko werklik haar Romeo kan wees.

Sinopsis

By ‘n skool waar amper almal ‘n passie vir sport deel – veral krieket – word hartebreker en uitmuntende kolwer, Marko Marais as ‘n held beskou. Mildred Groenewald, Marko se #superfan en krieketfanatikus, regeer op sosiale media waar sy die skool se leerders op hoogte hou van al die krieketnuus en skoolskinder deur middel van haar vlog. In teenstelling met Yvette, Tyler en hul piepklein, #arty dramabrigade wat van graad agt af slegs een droom koester: Om in hul matriekjaar Romeo en Juliet op die planke te bring.

Meneer Kirby Potgieter, die sportmal skoolhoof, het groot planne vir die komende T20- kampioenskap en sny die kuns- en kultuurbegroting om opgraderings aan die krieketklubhuis aan te bring. Sonder finansiële ondersteuning van die skool en met ‘n vurige begeerte om Romeo en Juliet die kalklig te laat sien, moet Yvette en Tyler ‘n plan maak om genoeg kaartjies te verkoop en hul opvoering te red.

Yvette, ’n pragtige en buierige dramasiel, en Tyler, haar stylvolle beste vriend, nader Marko om vir Tyler as Romeo te vervang. Dit verg oortuiging, maar wanneer hy instem, gee sy betrokkenheid die kaartjieverkope die nodige hupstoot waarvoor die vriende gehoop het.

Maar Mildred is nie geflous nie en raak besonders agterdogtig wanneer dit blyk dat Marko stoei met onverwagse gevoelens vir die bleek, drama #geek Yvette. Sy is min beïndruk as sy agterkom dat Yvette ook skielik meer sien in Marko as die image van ’n “oppervlakkige”, spiertier #jock met ’n sexy glimlag.

Mildred is woedend omdat sy eintlik Marko se “Juliet” wil wees en keur glad nie sy teatermanewales goed nie. Sy maak seker dat almal bewus is van die twee se nuutgevonde vriendskap. Marko se beste vriend, Brink, is veral jaloers op die aandag wat Marko kry nadat hy sy krieketkolf vir #leggings ruil. Nadat hulle ondersoek instel, besef Mildred en Brink dat ‘n leuen dreig om Marko en Yvette uitmekaar te skeur en gevolglik die opvoering te kelder...

Om universiteitstoelating te kry, moet Marko ‘n sportbeurs met sy krieketkolf losslaan. Terwyl hy uithaal en wys op die krieketveld, wonder Yvette of Marko werklik haar Romeo kan wees.