Die Storie Agter die Storie

The Film Factory het oorspronklik sy stempel op die plaaslike rolprentbedryf in 2008 gemaak met die vrystelling van die hoogs suksesvolle tienerkomedie Bakgat! Na vele ander rolprente wat lokettreffers soos Vir Altyd, Hoofmeisie, Pad na jou Hart, Ballade vir ’ n Enkeling en Roepman insluit het ons met groot opwinding besluit om weer ’ n rolprent vir die tienermark te vervaardig.

Dries Scholtz, een van die vervaardigers, het reeds vroeg vir bekende hartebrekker Ruan Wessels genader om die hoofrol te vertolk. Ons was werklik geseënd om die super talentvolle nuweling Elani Dekker te ontdek na ’ n lang soektog onder leiding van ervare rolverdelingsregisseur Lelia Etsebeth.

Die tienermark, dié se smaak en interaksie met die media en veral hul verhoudings het so dramaties oor die afgelope tien jaar verander dat dit werklik ’ n lekker maar groot uitdaging was om die projek op die been te bring.

Tina Kruger, Danie Bester en Berdene Burger het saamgespan om die teks te skryf. Die skrywers is gelei deur die filosofie dat die sukses van enige storie afhang van die kwaliteit van die storie en die gehoor se vermoë om hulleself met die karakters se ervarings en emosies te vereenselwig. Medium foefies is slegs tot die versterking van die storie beperk.

Regisseur André Velts en sy span het ’ n vars en moderne interpretasie na die rolprent gebring. Sy visie en regie gee aan Jou Romeo ’ n visuele edge wat dit uniek en modern maak.

Na twee jaar se swoeg, sweet en koestering is ons opgewonde om Jou Romeo met ‘n kykersgehoor te deel.

#loppies #leggings # liefde