Die Roman

Fanie Viljoen

Wanneer ’n boek verfilm word, hoor ’n mens gereeld dat die boek beter was as die film. Maar die briljante fliek Jou Romeo het hierdie keer eintlik eerste gekom. Ek sou moes uithaal en wys om die boek ’n lekkerlees-ervaring te maak. Natuurlik kan die twee nie presies dieselfde wees nie – dis verskillende vorme van vermaak – maar ek wou hê dat hulle ten minste soos ’n nie-identiese tweeling langs mekaar sal kan staan.

Dit was ’n heerlike uitdaging om die film in woorde vas te vang. Hoe maak ’n mens byvoorbeeld om die liewe Mildred se vlog op papier te wys? Uit watter hoek pak jy die storie aan? Hoe maak jy die karakters wat mense op die grootskerm gaan sien en liefkry ook lewendig op papier? Nie alles wat op film werk, gaan noodwendig in ’n boek werk nie, en andersom. Daarom het ek my kreatiwiteit vrye teuels gegee en my vertroue in die magiese kwaliteit van woorde gestel.

Die skryfwerk is andersins maklik gemaak deur ’n uitmuntende storie en innemende karakters. Jou Romeo is ’n jeugfilm en -roman wat wonderlik in skole gebruik sal kan word. Al wat lesers hoef te doen, is om agteroor te sit en weg te raak in die droom van Romeo & Juliet . . . of is dit Yvette & Marko?

Die Roman is binnekort Beskikbaar