Tina Kruger

  • Skrywer

Tina Kruger is ‘n vryskut skrywer, vervaardiger, regisseur en akteur. Sy voltooi haar BA Graad in Oudiovisuele Produksiebestuur (RAU) in 2003 en haar Honneurs in Sielkunde (RAU) in 2004. Sy geniet dit om katalisator te speel in jeugtransformasie en onderrig graag in vakgebiede Kuns-en-kultuur en Dramakunste. Haar passie vir kindersielkunde lei tot haar betrokkenheid by die konseptualisering, skryf en regie van kinder televisie-programme soos Thabang Thabong, Jakkals Jol (SABC2) en Lappies (Koowee). As draaiboekskrywer, het Tina se debuutfilm Leading Lady, wat spog met twee internasionale akteurs en ‘n vrystelling in die VSA, groot sukses behaal. Tina se tweede vollengte draaiboek, French Toast, het spoedig daarna gevolg en die kortfilm Stom, het by die kykNET Silwerskermfees gespeel in 2014. Sy skryf ook saam met Deon Opperman aan die bekroonde dramareeks Sterlopers. In 2015 vervaardig en regisseer sy die kortfilm Beurtkrag wat benoem is vir die kategorie ‘beste kortfilm’ by die Silwerskermfees vir daardie jaar. Tina is mede-vervaardiger van die speelfilm Sy Klink Soos Lente en mede-skrywer van speelfilms Vir die Voëls en Jou Romeo wat in 2016 vrygestel word. Tina speel in kortfilms Andre Metstrepie, Uit die Kaskenades, en Stom asook speelfilms Hoofmeisie, Leading Lady en Sy Klink Soos Lente. Tina is tans assistent-hoofskrywer op die gewilde Getroud met Rugby wat suksesvol van ‘n dramareeks in ‘n daaglikse sepie omskep is.