Yvette Verwey

  • Icequeen
Oor die karakter

Yvette Verwey is ’n gedrewe en uitgesproke 18-jarige dame met ’n onblusbare passie vir die teater. Sy droom vanaf graad 8 daarvan om saam met haar beste vriend, Tyler le Roux, Romeo en Juliet op die planke te bring.

Wanneer die kuns-en kultuurbegroting gesny word vir opknappings aan die krieketklubhuis, moet Yvette en Tyler hul kragte saamspan om hul droom te laat bewaarheid.

’n Deel van hul “briljante” plan noodsaak Yvette om vir Marko Marais, die skool se krieketheld, beter te leer ken.... Waarop sy egter nie gereken het nie, is dat Marko haar vooropgestelde
idees gaan uitdaag – en skielik is Yvette se hart nie meer haar eie nie.

Teaterkoningin Yvette Verwey is beeldskoon, yskoud en gebruik haar talent in toneelspel om te kry wat sy wil hê. Haar grootste droom is nog altyd om in matriek Juliet teenoor haar beste vriend Tyler se Romeo te speel. Yvette is vol verrassings, kan Zoeloe praat en het ’n donker geheim wat haar aanspoort om jocks te haat.

Vertolk deur
Elani Dekker

Elani Dekker is ’n innemende, sprankelende, jong kunstenaar met ’n droom in haar hart “om stories te vertel” – en dit is presies wat sy doen!

Tydens haar eerste hoofrol as Yvette Verwey in Jou Romeo, ’n romantiese tienerfilm, was elke dag op stel vir haar ’n onbeskryflike lekkerkry-plesier! Elani het ’n passie en talent vir die kreatiewe, skeppende kuns. Tuisskoling het haar geleer om doelgerig en gedissiplineerd te wees, eienskappe wat nodig is in die filmindustrie. Sy het die voorreg gehad om as beursstudent in Junie 2015 ’n Acting on Film-kursus by die New York Film Academy te volg – ’n geleentheid wat haar filmvaardigheid en selfvertroue ontwikkel het.

Plaaslik het haar opleiding by ActingOnScreen (2014/2015), onder die bekwame leiding van Jacques Bessenger en Lelia Etsebeth, haar laat ontluik in die akteur wat sy droom om te wees. Sy behartig in November 2014 haar eerste eenbedryf teateropvoering, (Free Range Chickens), vir die verhoog as akteur en mederegisseur saam met Anél du Plessis (WACK).

Met formele opleiding en onderskeidings in ballet (RAD) en kontemporêre dans (DanceCor) tree sy sedert 2014 op as danser vir KMad.Com (Kelsey Middleton Academy of Dance Company) se professionele groep op met onder meer produksies by die Grahamstad Kunstefees.

Talle televisie-advertensies, waarvan Coca-Cola (vir Rusland en Khazakstan), KFC Breakfast en Old Mutual (2014/2015) die hoogtepunte was, vorm deel van haar ervarings voor die kamera.

Elani skram nie weg van uitdagings nie en het ’n unieke vermoë om haarself in enige kunsvorm uit te druk. Sy beskou haar rol in die uitvoerende en skeppende kunste as ‘n voorreg en wil aanhou stories vertel....