Marko Marais

  • Legend
Oor die karakter

Marko is ’n held vir die meeste kinders in die skool. Meisies is mal oor hom en die seuns respekteer hom. Hy kan ’n regte casanova wees as hy wil en is ’n uitstekende krieketspeler, veral kolwer! Hy en sy beste vriend, Brink Bouwer, droom om vir die Proteas te speel, maar Marko se ma droom net daarvan dat haar seun matriekwiskunde sal slaag.

Alhoewel Marko baie arrogant is, het hy ook ’n mooi, liefdevolle kant en aanvaar hy mense soos hulle is, maar hy skroom nie om op te staan vir sy beginsels nie.

En laastens...HY HAAT LEGGINGS!

Vertolk deur
Ruan Wessels

Ruan Wessels is ’n jong, Suid-Afrikaanse akteur wat lankal betrokke is in die televisie- en filmbedryf. Hy het in 2015 aan Hoërskool Noordheuwel gematrikuleer waar hy reeds vanaf graad agt (2011) op die leerlingraad gedien het.

Hy vertolk vir die afgelope vyf jaar die rol van Morné in Binnelanders en het ook al verskyn in Getroud met Rugby, Heart of Gold en Fluiters. Sedert sy eerste televisie- advertensie vir KFC (2008), het hy ook ’n string ander gedoen vir onder meer ARA Anti-Alcoholism, Agriforum, Plascon en Lays. Hy was ook al te sien in vyf vollengte films en in ’n paar plaaslike musiekvideos.

Ruan is ’n kranige krieketspeler en is in 2012 gekies vir die Diamant-span (die ontwikkelingspan vir die Proteas). Verlede jaar het hy sy Protea-klere verwerf in Sjinese vegkuns, koeng foe (Wudang Whushu) en het ’n bronsmedalje by die wêreldkampioenskappe in Sjina losgeslaan. Hy is ook passievol oor skaatsplankry en beoefen yoga, CrossFit en KravMaga wanneer sy skedule dit toelaat.