Kirby

  • ClownKirby
Oor die karakter

Hy is ’n tipese sportmal skoolhoof. Mal oor sy posisie. Mal oor sy pittige sin vir humor. Hy het vasgeval in die vroëe 90’s... sy haarstyl, snorstyl, dansstyl en bestuursstyl. Hy wil graag die beste uit al sy leerlinge kry, al is dit net om homself te laat goed lyk. Soms het hy nie al die antwoorde op die moeilike vrae nie, en dan ontrek hy en hoop dat die leerlinge en onderwysers dit sal uitsorteer. Wanneer het hy dit gedoen?

Maar hy is bitter trots op sy skool. Kirby is ’n bok vir sports, en gee nie om om sy naam krater te maak nie. Veral nie as dit is om sy geliefde eerste krieketspan te ondersteun nie. Sy geliefde krieketspan. Hy droom saans van hulle sukses.

Hy is fanaties oor sport en natuurlik dan ook nie ten gunste van kultuur nie. Met ’n onblusbare entoesiasme langs die krieketveld, en ’n unieke sin vir humor, regeer hy die skool met ’n ysterhand in ‘n enorme foam-finger vermom. Kirby is ook ‘n groot voorstaander van die vryemarkstelsel en gebruik dit en ander foefies om sy besluite rondom die befondsing van skoolaktiwiteite te regverdig.

Vertolk deur
Pierre Breytenbach

Pierre het sy BA drama graad in 1998 aan Tukkies verwerf, en het toe kop eerste ingeduik. Hy het dadelik op die verhoog begin werk in musiekblyspele, en komedies. Sedertdien het hy al saam met groot name verhoogplanke geskuur, soos Frank Opperman, Gys de Villiers, PG du Plessis, Deon Opperman, Sandra Prinsloo, Tobie Cronjé en Harry Kalmer, om maar ‘n paar te noem.

TV was ook n trekpleister, en programme soos Die Casper Rasper Show, Spekskieters, en elke sepie in die land het hom die afgelope dekade lekker besig gehou. Hy was onlangs ook te sien in al drie seisoene van kykNET se improvisasiekomedie Proesstraat, en die trefferfilm Klein Karoo.

Pierre was bevoorreg om deur die jare talle benoemings en toekennings te ontvang vir sy uiteenlopende aanbiedinge. Tydens die afgelope 15 jaar het hy as stemkunstenaar ook wyd bekend geraak op die oor geval in radiodramas, oorklankings, films en TV- en radioadvertensies. Hy het vir vier jaar lank die suide van Afrika platgereis as ’n veldaanbieder vir die bewaringsprogram 50/50.

Meer onlangs het hy die land vroegoggend wakker gemaak op weeksdae as aanbieder van Dagbreek, kykNET se regstreekse ontbytprogram en het hy as gasheer opgetree by die regstreekse uitsending van die 2016 kykNET Fiësta Toekennings.